Monday, April 7, 2008

"Ball ‘n chain"



Bitterheid is die wortel van alle kwaad.
Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie.

Hebr 12: 15


10 Jan 2006
Vader het vanoggend vir my ‘n beeld gewys van ‘n outydse “ball ‘n chain”.
In die ou dae – ek klink soos een van my kinders! – is ‘n gevangene dikwels met sy gevangeneming aan ‘n “Ball ‘n chain” vasgemaak. Hierdie was ‘n kort ketting wat om die enkel vasgeklamp was en aan die ander punt van die ketting was ‘n swaar metaalbal. Die idee was dat die prisonier nie sou kon ontsnap nie, al was hy nie in ‘n sel nie.

Die bal was geweldig swaar en as die gevangene wou loop moes hy die swaar bal optel en dit dra.
Ek het eenmaal in ‘n museum so ‘n bal probeer optel, ek kon dit skaars roer.

Die klamp om die been het meesal verskriklike geinfekteerde sere veroorsaak en die ongelukkige feit is dat party gevangenes so swak was dat hulle maar op een plek moes bly lê en selfs soms in haglike omstandighede doodgegaan het omdat die bal hulle bewegings totaal beperk het.

Vader het my daarop gewys dat bitterheid soos hierdie “ball ‘n chain” werk. Die herinnering aan die omstandighede of persoon wat jou veronreg het, is die ketting en bitterheid is die metaalbal wat jy met jou saamsleep.

In “cartoons”kry ons soms ‘n baie grafiese prentjie van so ‘n mannetjie wat ‘n vreeslike swaar metaalbal saamsleep.

Omdat die ketting kort is – blykbaar net 10 skakels lank – is jy nooit werklik verlos van hierdie gewig nie. Dit is altyd half onder jou voete, nooit ver van jou af nie, dit beinvloed altyd alles wat jy doen. Net so met hierdie geestelike metaalbal van bitterheid. Die ergste van alles is dat hierdie metaalbal soos ‘n magneet werk.


Bitterheid oor een situasie veroorsaak dikwels dat ons verbitterd is oor ander dinge en mense ook, soms sommer oor alles, want die bitterheid wat ons in ons harte troetel maak dat ons alles deur die bril van hierdie bitterheid bekyk. Die metaalbal groei dus letterlik soos wat ons toelaat dat die bitterheid in ons harte groei – dink aan ‘n sneeubal wat al groter en groter word soos wat dit oor die sneeu rol!
Ek het op ‘n stadium ‘n vrou geken wat deur ‘n slegte egskeiding moes worstel. In die proses het sy so verbitterd geraak dat sy mense van haar af weggestoot het. Dié wat wou help het later moed opgegee want sy het net haat en bitterheid gebraak. Niemand wou haar eers meer op straat groet nie, want oor en oor moes jy die giftige storie aanhoor. Die hartseerste van als is dat sy haar pragtige kinders net so vergiftig het. Hulle is weggehou van hulle pappa en vol leuens en haat gepomp. Hierdie vrou, wat gelowig was, kon nooit die egskeiding verwerk nie. Sy dra tot vandag toe nog hierdie geweldige metaalbal, teen die tyd so groot soos Titanic, saam met haar. (En jy weet wat met Titanic gebeur het!)

Die Woord sê in Ef 4: 31, 32:- Moet NOOIT verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en Vergewe mekaar, soos God julle ook in Christus vergewe het!

Spr 4: 23 sê Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want DIT bepaal jou HELE LEWE.

Vader is baie duidelik as Hy sê – moet NOOIT verbitter wees nie want Hy weet dat dit vir die vyand ‘n wapen gee waarmee hy ons gevange kan hou, want dit is presies wat JY is – ‘n GEVANGENE! Nie die ou vir wie jy kwaad is nie, JY!



Matt 6: 14 is baie duidelik: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie JULLE oortredings vergewe nie!

Dit behoort ‘n redelike skok te wees as jy en Jan, teenoor wie jy ‘n wrok koester, gelyk voor Vader se genadetroon verskyn en Hy Jan toelaat in Sy Koninkryk, omdat Jan met ‘n hart vol berou om vergiffenis gepleit het. En vir jou, teenoor wie so ‘n verskriklike onreg gepleeg is, moet Hy dalk sê: Ek is jammer My kind maar Ek kan nie teen My Woord gaan nie!

Vader sê vandag vir ons: Gooi af daai gewigte wat julle so saam sleep!


My Seun het vir al jou pyn gesterf (Jes 53: 4).
Kom vry van al die bande waarmee die vyand jou wil bind! (Joh 8: 36).
Ek wil hê jy moet dans op die wind (Ps 150 : 4).
Ek wil hê jy moet vry wees en bokspring soos ‘n vetgemaakte kalf (Mal 4:2).
Ek wil saam met jou oor ‘n muur spring
(Ps 18: 30).
Ek wil vir jou voete gee soos dié van ‘n ribbok, sodat jy op die hoë plekke kan trippel (Hab 3:19),
sodat Ons die satan onder jou voete kan verpletter (Rom 16: 20)!

Hoe raak ons ontslae van hierdie “ball ‘n chain”? Vergifnis is die sleutel wat daardie vreeslike klamp om jou enkel losmaak!

Wil jy nie saam met my ‘n gebed doen om hierdie goue sleuteltjie te draai sodat jy kan vry kom nie?


Vader, U weet wat …….. aan my gedoen het. U weet van die verskriklike pyn wat dit in my veroorsaak het. Vader, ek wil nie meer vasgebind word deur hierdie pyn en verbittering nie, help my asb om ….. volkome te vergewe. Ek kies om Jesus se voorbeeld te volg en om dié wat teen my oortree het te vergewe. Ek weet ook dat as ek …… vergewe die vyand my nie langer in kettings kan hou nie, maar dat ek vry sal wees om te lewe soos wat U vir my bedoel het. Dankie dat U my vrymaak van verbittering en haat, ek bely ook my woede en die wraakgedagtes wat ek gekoester het. Dankie dat U Woord sê dat as U Seun my vry gemaak het is ek waarlik vry. Ek loof U Naam! Amen.


Moontlik is jy verbitterd teenoor God omdat Hy sekere dinge in jou lewe toegelaat het. Ons lewe in ‘n siek wêreld en slegte dinge gebeur met ons. Soms is dit agv ons eie sonde dat ons vrot vrugte pluk, ander kere is ons heeltemal onskuldige slagoffers. Die feit is egter dat Vader die slegte dinge wat met ons gebeur wil omdraai in iets moois. Al wat Hy vra is dat ons dit in Sy hande moet sit. Dwarsoor die wêreld is die ouens met die kragtigste getuienisse dié wat deur slegte, moeilike tye gegaan het. Vader sê dat Hy ALLES ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet (Rom 8:28). As ons dit altyd voor oë hou weet ons dat Hy daardie swaar ysterbal kan omskep in ‘n visnet waarmee ons ‘n klomp visse vir die Koninkryk kan inbring.

Ek en jy het ‘n keuse! Ons kan ligvoets dans op maat van die Oorwinningslied of ons kan die Titanic agter ons aansleep! (en dalk na die bodem van die see gesleep word in die proses!)