Thursday, November 13, 2008

Hou die ape uit jou huis uit!!!!!


Ek glo hierdie titel het jou oë so effens laat rek, maar glo my dit is ’n kosbare stukkie raad uit die Koning se hand!

Vader wys my op ’n dag daarop dat ek nooit ape in my huis sal toelaat nie omdat ek weet dat hulle ‘Havoc” sal saai. Ek het dadelik daarmee saamgestem, dis mos logies, enigeen wat al die gemors en chaos moes aanskou wat ape kan veroorsaak glo ek sal dit met my eens wees: HOU DIE APE UIT JOU HUIS UIT!!!!

Ek kon egter nie verstaan wat dit met my te doene gehad het nie – ek bly nie op ’n plek waar daar ape is nie, so wat nou? Vader het toe maar ewe geduldig verduidelik :-

Net soos wat ape chaos veroorsaak in ’n huis, veroorsaak geestelike ape chaos in my geestelike huis....... Ek het dadelik die prentjie gekry!

Kom ons kyk eerstens na die geestelike ape. Enige negatiewe gedagtes bv vrees, twyfel, moedeloosheid, minderwaardigheid, bitterheid ens, ens, ens is vieslike, lelike ape – nie cute klein apies nie, groot, vet, harige monsters!
Laat jy hierdie ape in jou gedagtes toe het jy moeilikheid – hulle teel selfs vinniger aan as paashase, voor jy jou kom kry sit jy met ’n hele kolonie van hierdie vieslike goed!!

Het jy al ooit ’n aap probeer vang? Glo my, die blote gedagte daaraan maak my flou – dit is amper onmoontlik om ’n aap te vang, wat nog te sê ’n trop! So die beste raad ooit, is: HOU DIE APE UIT JOU HUIS UIT!!

Spreuke 4: 23 sê:- Wees veral versigtig met wat in jou hart aangaan
want dit bepaal jou hele lewe.

Besef jy dat jy maw ’n keuse het oor wat jy in jou hart bêre? Jy kan kies of jy kwaad gaan wees, seergemaak gaan wees, kleinserig gaan wees, minderwaardig gaan voel, jouself gaan bejammer, verwerp gaan voel .....
Ek glo jy wil nou dadelik vir my sê dat ek nie weet wat jy deurmaak of ervaar het nie, en ek wil sommer dadelik sê: Jy’s reg, ek weet nie, maar glo my ek het genoeg ape al moes rondjaag om myself ’n ervare aapvanger te noem....

In die proses het ek ’n paar truuks geleer omtrent aapvangery en ek deel dit graag met jou! Laat ek myself net eers in die rede val: as jy vir jare lank ’n sekere denkpatroon het, as jy jare en jare minderwaardig voel gaan dit ’n mini-oorlog kos om van hierdie ape (teen hierdie tyd gorillas) ontslae te raak, maar as jy begin verstaan dat jy keuses het, as jy die Koning toelaat om genesing in jou emosies te spreek is die eerste veldslag al gewen. Jy kan en moet verkieslik ’n aapvrye gedagtewêreld hê, daar kan vrede heers in jou emosies.

Kom ons gaan vang die ape!!

1. Die eerste ding wat die Koning my geleer het is dat die vyand se speelplek my siel is! Maar wat is my sielsdimensie? Dit is my gedagtes, my emosies en my denke! Joyce Meyer beskryf dit tereg as ‘n “Battlefield”! Dit is die plek waar ek in oorwinning staan of waar ek val! As ek besef dat die vyand my kan “floor” met my eie emosies kan ek begin terugveg maar so baie keer hou hy ons as’t ware gevange met ons eie onkunde, ons eie verlammende emosies.

2. Tweedens moes ek leer om net te reageer op dit wat ek wéét waarheid is. Die woord sê duidelik dat die satan die vader van die leuen is – HY KAN NIE DIE WAARHEID PRAAT NIE – en tog val ons telkemale vir sy leuens. Ons mors soveel kosbare energie deur te tob en swaar te kry oor goed wat ons “asume”! As Sannie jou nie groet by die kerk nie is jy in ’n toestand omdat sy vir jou kwaad is – intussen worstel sy dalk met ‘n ding of het jou doodeenvoudig nie raakgesien nie – of iets in die lyn. As jou man (of vrou of kind) laat tuis kom, kan jy begrafnis reël, hom in iemand anders se arms beleef of wat ookal, - of jy kan besluit dat jy nie die waarheid weet nie en daarom gaan kalm bly en solank met die Koning besig wees totdat jy wéét wat aangaan en dan daarvolgens reageer!


3. Noem elke aap by die naam! ’n Baie belangrike deel van emosionele gesondheid is om jou emosies te erken en herken. Jy kan “af” voel of jy kan “emosioneel” wees, of selfs ‘n “depro kap” soos die kids sê - jou hele lewe lank! Of jy kan beheer neem oor jou emosies deur elke emosie te erken, hom ’n naam te gee en dan daarmee te deel. Is jy gefrustreerd of is jy kwaad? Maak seker, daar is ’n verskil , weet jy? Backtrack so ’n bietjie, gaan kyk waar hierdie aap ingekom het en kyk hom dan in die oë. Die oomblik as hy ’n naam het begin jy outoriteit oor hom kry en MOET hy eventueel die knie buig en gaan! Gaan dit ’n geveg afgee? Verseker!!! Geen aap wat al jare lank in jou kop nesgeskop het gaan ewe gedwee sy plek afstaan nie! Maar wie is baas oor jou kop en jou hart? ’n Trop ape of die Koning en dus ook jy?

2 Kor 10: 5b:- Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

Wie se werk is dit dus om die ape te vang? Myne natuurlik! Ek is verantwoordelik vir my binnekant! As ek gemors toelaat gaan daar gemors en chaos heers, as ek dit bedink wat rein is , edel is, mooi is, goed is( Fil 4:8) gaan daar vrede in my binneste wees, maak nie saak wat met my gebeur nie. Is dit maklik? Verseker nie! Maar glo my, as jy ’n keuse gemaak het om jou gedagtes, hart, verstand, alles aan die Koning oor te gee, as jy doelbewus die oorlogsveld betree raak jy gou-gou ’n aapvanger! (Nog ’n inskrywing op jou “heavenly” CV)

Laat alle ape hulle maklik vang? Verseker nie!!! Daar sal wel ’n paar wille, halstarriges wees (Halstarrig = half stadig) en dan kry jy natuurlik nog die hardnekkiges (ons chop hulle sommer met die Swaard van die Gees) ook, maar moenie moed opgee nie:

2 Kor 10: 4 sê:- Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die KRAGTIGE WAPENS VAN GOD wat vestings kan vernietig!

Hoe deel jy met jou emosies?
Jy moet eerstens die emosie erken.
Besef dan dat elke negatiewe emosie ’n wortel het wat vrot is – die vyand het hom geplant - daar is niks goed daaraan nie! Moet ook nie dink jy kan hom afkap en klaarkry nie, gaan wortel toe, roei uit, vernietig die wortel.

As die wortel verwerping is, moet jy besef dat dit die vyand is wat jou wil vernietig. Jy moet dus die leuen van die vyand, dit wat jou verwerplik laat voel ,vernietig – maak nie saak wat wie oor jou gesê het nie, dit is wat God oor jou sê wat saak maak. (Ps 139, Joh 3: 16 ens) Vernietig daardie aap!

Nog twee ape.....
Het jy geweet dat selfbejammering sonde is?
Besef jy dat as jy skinder jy ’n aap of twee loslaat?

Rom 13: 14:- Laat ons dan die wapens van die Lig opneem.

Wat is hierdie wapens wat jy kan gebruik teen die ape, om genesing in jou emosies te kry?

Woord - vir elke negatiewe emosie is daar genoeg Skrif om hierdie aap weg te blaas! Spreek dit hardop uit en vernietig die vesting in jou gedagtes! Bv VREES (dit kom uit die vyand se hand uit), beveg hom met 2 Tim 1: 7:- Ek het nie ’n gees van vreesagtigheid nie maar van liefde, selfbeheersing en krag! Sê dit hardop! Spreek dit uit elke keer as jy vrees ervaar sodat jou hart dit kan hoor en begin glo en sodat die gees van vrees (daai ou vieslike aap) sy ry kan kry!
Ek het ’n kosbare vriendin wat die satan wegjaag met die woorde:- Hey, los my uit! Ek lees vir jou ’n Psalm!!!! Glo my hy staan nie lank genoeg stil om die woord te hoor nie. Vertrou my, geen aap hou daarvan om na psalms te luister nie, hy vlug liewer!

Vergifnis – Vergifnis is die mees bevrydenste handeling wat ek ken, dis die beste pynstiller en die grootste skild! As jy sukkel om te vergewe dra jy ‘n GROOT aap in jou hart saam en sommer een op jou rug ook! As jy vergewe (en vergewe, en vergewe) is daar ’n groot skild om jou wat die brandpyle wegkeer van jou hart!

Liefde – Liefde is die sterkste wapen wat jy ooit kan dra. Die geheim is om dit teen die vyand te gebruik en nie teenoor mense nie. As ek liefde gee, ten spyte van die feit dat ek seergemaak of verniel word trippel die vyand van woede ,en ek glo hy kners op sy tande – en daardie pentjie is genoeg om my aan te spoor om lief te hê! Die satan kan nie bly staan in ’n atmosfeer van liefde nie, hy haat dit! Hy vlug, dalk nie dadelik nie, maar eventueel moet hy gaan! 1 Cor 13: 6:- Love never fails. (NASB)
Is dit maklik om lief te hê as jy verniel word? Verseker nie!!!
Dit kos dat jy moet sterf aan jou vlees, jou idees, jou pyn, eintlik maar jou alles. En dit beteken verseker dat jy elke aap binne ’n duisend seemyl moet uitroei!

Jou anker – Hoop(’n vaste vertroue) in Yeshua Ha Mashiach, Jesus Christus is die anker van my siel. Sonder ’n anker dobber jy rond op die ontstuimige oseaan van jou emosies, maar as jou anker stewig aan die Rots geanker is kan jy staande bly! Hebr 6: 19.

Geloof – Geloof help jou om te veg teen die ape, dit help jou om nie te luister na die ape se vuil storietjies nie, dit help jou om die ape te vernietig want jy kies doelbewus om nie te kyk na wat jy sien nie maar om te kyk na dit wat jy glo!

Gaan jy toelaat dat ape jou vreugde steel, jou emosies bepaal, jou dag bepaal? Nee hoor, jy is ’n Koningskind! Jou erfenis is goed, jy is die kop en nie die stert nie, jy het outoriteit, jy het ’n keuse!

Jesus het gesê:-
John 14:27:- Do not let your hearts be troubled and do not be afraid.
(Stop allowing yourselves to be agitated and disturbed; and do not permit yourselves to be fearful and intimidated and cowardly and unsettled.)

Maw keer die ape voor hulle in jou huis inkom! Sluit die deur, maak toe die vensters, waak oor jou binnekant! Gebruik dit liewer as ’n plek van aanbidding... maak dit vol met lofprysing, Woord en die Koning se Teenwoordigheid!

Ons kan nog boeke vol skryf oor aapvangtegnieke, maar ek dink jy kry die boodskap:

HOU DIE APE UIT DIE HUIS UIT!!!