Tuesday, June 3, 2008

Koord van hoop



Haar vingers krul om die rooi gordynkoord......
Here, God! Kreun dit deur haar...

Ragab leun teen die koue klip muur. Sy staar afgetrokke na die Israeliete wat netjies in gelid voor haar kamervenster verby marsjeer. Dit is nou al die sesde maal vandag! Die afgelope ses dae het hulle slegs een maal elke dag om Jericho gemarsjeer, maar vandag is anders.... Die klank van die ramshorings skeur herhaaldelik deur die lug! Dis 'n senutergende klank, 'n klank wat jou wil mal maak! Ses dae nou al word alle ander geluide uitgedoof deur hierdie kermende, rou klanke. Haar pa sê dis die klank van bloed, of liewer, dis wat hy gesê het toe hy nog nugter was. Teen die derde dag wat hy dit oor en oor en oor gesê het, was sy maar te dankbaar toe hy sy vrees begin verdrink het. Haar ma lê op die bed, haar kop toegetrek, kermend, soms histeries.

Die ander mans, haar broers en swaers speel lusteloos 'n kaartspel. Kort- kort kyk een op en vloek in haar rigting, die vrouens sit morbied, ineengedoke, elkeen in haarself ingekrul, terwyl die kinders lusteloos aan 'n bak gebraaide koring peusel.


Ses dae lank al is die spanning in die huis onuithoudbaar maar vandag is dit eens te veel vir haar. Haar familie neem haar kwalik dat hulle hier soos gevangenes vasgekeer is. Toe die Israeliete die eerste dag die stad genader het, het sy die deur gesluit en die sleutel weggesteek, natuurlik tot almal se misnoeë! Haar pa en broers het selfs gedreig om haar by die venster uit te gooi! Sy sug, sy weet eintlik so min van hierdie God in wie se Hande sy haar en haar familie se lewens oorgegee het. Het sy hulle nie dalk juis verraai deur die rooi koord by die venster uit te hang nie? Sy is seker dit moet van 'n dagreis-ver af sigbaar wees. Genadiglik het nie een van die familie die tou raak gesien nie, sy kan net dink hoe hulle haar dan sou geskel het... Hierdie koord is ál wat haar verbind aan die belofte van die twee Israeliete, ál wat haar verbind aan hulle God! Dis haar tikvah, haar Hoop!

Maar kan sy werklik hierdie God vertrou? Hy weet nie eers van haar nie, sy is nie van Sy volk nie, sy is 'n onteerde, 'n uitgeworpene... Sy weet nie eers regtig wie Hy is nie! Al wat sy weet is dit wat sy by reisigers en van haar kliënte gehoor het, van hoe hierdie God wat hulle Yahweh noem Sy volk, die Israeliete uit Egipte gered het en hulle veertig jaar lank in die woestyn aan die lewe gehou het. Sê nou dit was alles bogpraatjies, versinsels, kampvuur-praatjies...

Ragab vee oor die nat spoortjie op haar wang, die hitte is ondraaglik, 'n stofwolk kleur die swaar lug, en die gedreun van marsjerende voete en kermende shofars gaan net aan en aan.... hoe lank nog? Here God, Yahweh, hoe lank nog?


"Molech help ons!" gil iemand histeries, en 'n kind kerm hoog en dun as die lug skielik geskeur word deur bloedstollende oorlogskrete uit derduisende Israelietiese kele! Onmiddelik word die wrede geluid aangevul deur die angsbevange gille van die inwoners en diere van Jericho! Die mans bestorm vloekend die deur, vrouens en kinders soek gillend wegkruipplek....

Ragab staan asof versteen by die venster, om haar heers daar 'n oorverdowende chaos! Binne-in haar is daar 'n eindelose stilte.......

Dit is tyd.....

Skielik begin die vloer onder haar voete skud, die mure kraak, kruike val om, stof dwarrel neer vanuit die dak... Sy kan die chaos ruik, hoor en sien, sy proe die stof, oral om haar val alles inmekaar! Die stadsmure tuimel inmekaar, reuse klippe reën neer op 'n wriemelende mensemassa. Sy voel hoe haar mond oopsper om te skree, maar geen geluid verlaat haar nie, haar vingers krul krampagtig om die rooi koord...

Elizabeth staar na die gordynkoord in haar hand... asof van ver af hoor sy die oorverdowende hartklop van Charl se woedende rockmusiek...
Dis hulle laaste aand in die huis. Marius lê dronk op die sitkamerbank, Karlien skilder met wanhopige hale, donker kleure in haar kamer... Dis verby, alles is verby!


Sy maak die venster oop, hang die koord na buite.

"Here God, Yahweh, Vandag sien ek net ruïnes, ek sien my stukkende, vernielde gesin, maar soos wat U Ragab uitgelei het uit die ruïnes, weet ek dat U my sál oplig, uitlei uit hierdie gemors.

U ìs die God van Israel, die God van Ragab én die God van Elizabeth! Ek kies om soos my oersuster my oë op U te rig. Om te glo, verby verwoesting te glo! Om te vertrou al sien ek net chaos!

Here Jesus, Yeshua my Verlosser, U is my Tikvah, my Hoop!"





2 comments:

Anonymous said...

Hallo Ina

Ek lees aandagtig aan jou blog en die vraag kom by my op, of jy besef dat 'n mens partykeer na ander se bal aan die voet kyk, en nie besef dat jou eie bal soms net so groot is nie.

Sal jy my asb. laat weet by rbrtwntzl@gmail.com ,

1. Wie die bruid van Yeshua is.

2. Hoe sien jy die Koninkryk van Yeshua.

Ek sal dit hoog op prys stel.

Shalom

Robert[sojouner to 10-Israel]

Anonymous said...

Hallo Ina

Ek lees aandagtig aan jou blog en die vraag kom by my op, of jy besef dat 'n mens partykeer na ander se bal aan die voet kyk, en nie besef dat jou eie bal soms net so groot is nie.

Sal jy my asb. laat weet by rbrtwntzl@gmail.com ,

1. Wie die bruid van Yeshua is.

2. Hoe sien jy die Koninkryk van Yeshua.

Ek sal dit hoog op prys stel.

Shalom

Robert[sojouner to 10-Israel]