Friday, February 17, 2012


’n Handvol Genade.

Sy stryk oor die beddegoed. Kyk vir oulaas dat als in plek is, die wasskottel, die tafeltjie wat sy gedek het, sy slaapklere, die geurige blomme in die erdekruikie op die muurrakkie....

Sy gaan sit voor die venster, vou haar lang swart hare oor haar een skouer en begin dit rustig borsel. Dit was ‘n lang dag, ‘n ewige dag, ‘n jubel, jubel dag...

Sy het soos gewoonlik in stilte haar dagtakies verrig, hy het in stilte reggemaak vir sy diens by die tempel. Soos elke oggend het sy bot stilte teen haar aangedreun, haar aangekla, haar verpletter.
Twaalf  jaar lank nou al, die stilskreeuende verwyte ,die verwerping: Jy die  onreine! Twaalf jaar lank al wat sy stilswyend uitgil: Raak tog net aan my......

Later het Martha van langsaan uitasem kom sê, die Man van Nasaret, die Een wat hulle die Profeet noem is hier! En sy, die onreine, het agterna gestrompel.  Sy moes Hom net sien, moes weet of Hy waarlik is, wat almal fluister..... die  Messias, die Gesalfde van Adonai!

Gelukkig het Hy kort-kort stilgestaan, iemand aangeraak, ‘n lewe omskep, sy kon mettertyd nader beweeg.  Skuifeltreë, skugtertreë, toegevou in haar mantel.  As sy net met Hom kon praat, kon vra waarom....

Oneindig bewus van haar onreinheid het sy probeer om ongesiens deur die menseskare te beweeg. Nader en nader, sy kon later hoor hoe Hy lag!
Sy het voort geskuifel, angs en swakheid wou haar oorrompel, maar ’n groter drang het van haar besit geneem! As sy net aan Hom kon raak...
Maar sy weet sy durf nie, Hy die Godsgestuurde sou sy nie durf onrein maak nie! Om haar is daar ‘n gemaal van mense, bedelaars roep,  Sy dissipels vorm ’n kordon om Hom, en dan sien sy Hom...

’n Paar tree voor haar loop Hy en Jairus, sy sien dat Jairus ontsteld is, aanmekaar probeer om die Profeet aan te jaag. Deur haar waas hoor sy brokkies en stukkies van hulle gesprek, besef dat iemand..... Jairus se dogtertjie, sterwend is. Haar hart krimp, sy weet dit is sy enigste kind.  Sy snak, sal sy ooit.......

Maar dan glimlag sy, Hy is oppad na Jairus se huis, als sal regkom! Sy weet dat Jairus lankal glo in die Profeet, sy het hom  menigmaal in die koel aandlug op die dak van hul huis met haar man hoor redeneer. Gehoor hoe hy opgewonde vertel van die wonderwerke, dan het sy stilletjies aan die voet van die trap gaan sit en luister, honger vir nuus, want sy durf nie Sy naam in haar huis noem nie, durf nie praat oor die Verraaier nie....

Maar hier is Hy nou ’n paar tree voor haar, groot mans versper haar sig maar sy weet Hy is daar, sy hoor Hom, voel die ekstase in haar opstoot. As Hy net wil omdraai, as Hy haar sien sal Hy weet sy glo en dat sy Hom so nodig het.....

Sy struikel oor iets, voel hoe sy deur die skare vorentoe gestamp word, kom hard op haar knieë te lande. Op daardie oomblik buig die Profeet af om met ’n ou bedelaar te praat. Sy sien Sy tallith, sien hoe die tzitzit voor haar liggies heen en weer wieg op die maat van Sy bewegings...

“As ek net aan Sy Tallith kan raak, as ek net aan die tzitzit kan raak sal ek gesond word, sal ek nie meer onrein wees nie!”

Haar hand beweeg onwillekeurig vorentoe, huiwer,  en dan, met die suiwer wete dat Hy die Messias is, dat Hy die Een is wat haar kan heilig, gryp sy met haar laaste krag na die tzitzit, simbool van die Torah en deur haar dreun die gebed: Adonai, maak my rein, heilig my..........

Geskok slaan sy haar hande om haar buik, die pyn is weg! Besef onmiddelik dat die bloed ophou vloei het... Sy voel hoe krag deur haar stroom. Vervaard spring sy op, probeer uit die pad van die malende voete kom...

’n Stilte daal skielik op die skare as die Profeet Sy kop oplig en vra: “Wie het aan My klere geraak?” ’n Paar voortvarendes skree:”Ek!”,  terwyl die oorgrote meerderheid terugdeins, nie seker van die gesindheid agter die vraag nie. Al die dissipels praat gelyktydig, probeer die Meester oortuig dat die skare van alle kante teen Hom aangedruk het. Sy oë gly oor die skare, kom te ruste op haar verskrikte gesig.
Sy weet Hy weet...

Snikkend val sy voor Sy voete neer, vrees en blydskap ’n mengelmoes van emosies wat deur haar hart galop. Stotterend, babbelend verduidelik sy... Sy weet dat sy nie sin maak nie, onsamehangend vertel sy vir Hom van haar jare se pyn , vernedering, moedeloosheid, eensaamheid! Sy voel hoe Hy haar optrek, die growwe mantel wat haar moes vermom van haar aftrek.....

“Dis die priester se onrein vrou!” hoor sy iemand uitroep, beleef hoe almal wegdeins van haar af en dan word dit oneindig stil in haar as sy opkyk in Sy oë. Al die jare se vernedering val in daardie oomblik van haar af weg as sy die liefde in Sy oë beleef, toegevou word in die wete dat sy rein is in Sy heilige oë....

Sy hoor Sy helende woorde oor haar spoel: Jou geloof het jou gered, gaan in vrede, jy is genees!”

Sy staar Hom agterna, voel hoe die skare teen haar stamp as hulle by haar verbybeweeg. Hier en daar raak ’n vrouehand saggies, skugter aan haar....

Sy draf dansend huis toe, die mantel wat haar moes wegsteek snoesig om ’n dankbare bedelaar gevou. Haar hart jubel, haar lippe sing ’n loflied: Hoshannah in die hoogste hemel, Hoshannah Hy leef!

Sy plaas die borsel neer, kyk vir die soveelste maal verwonderd na haar bloesende  afbeelding in die spieël, stryk oor haar sterk, regop figuur, voel die borduurwerk van haar mooiste rok onder haar vingerpunte.....

Hy storm vervaard by die deur in. “Ek was by Jairus se huis, die Profeet het sy dogtertjie gesond gem...” Die woord hang stom in die lug, sy oë verstar, verwonder...

“Hy het my ook gesond gemaak, Baruch HaShem!”

Verwonderd kyk sy hoe hy naderkom, voel sy hoe hy haar gesig met sy groot hande omraam, hoor sy hoe hy snikkend dit op haar lippe uitjubel:
“Baruch Haba B’Shem Adonai, my vrou!”




Notas:
  Tallith – gebedsdoek van die Joodse mans
  Tzitzit – tossels aan die hoeke van die Tallith. Kyk Num 15:39
  Baruch HaShem – Geseënd is die Naam
 Baruch Haba B’Shem Adonai – Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here.