’n Handvol Genade.
Sy stryk oor
die beddegoed. Kyk vir oulaas dat als in plek is, die wasskottel, die tafeltjie
wat sy gedek het, sy slaapklere, die geurige blomme in die erdekruikie op die
muurrakkie....
Sy gaan sit
voor die venster, vou haar lang swart hare oor haar een skouer en begin dit
rustig borsel. Dit was ‘n lang dag, ‘n ewige dag, ‘n jubel, jubel dag...
Sy het soos
gewoonlik in stilte haar dagtakies verrig, hy het in stilte reggemaak vir sy
diens by die tempel. Soos elke oggend het sy bot stilte teen haar aangedreun,
haar aangekla, haar verpletter.
Twaalf jaar lank nou al, die stilskreeuende verwyte ,die
verwerping: Jy die onreine! Twaalf jaar
lank al wat sy stilswyend uitgil: Raak tog net aan my......
Later het
Martha van langsaan uitasem kom sê, die Man van Nasaret, die Een wat hulle die
Profeet noem is hier! En sy, die onreine, het agterna gestrompel. Sy moes Hom net sien, moes weet of Hy waarlik
is, wat almal fluister..... die Messias,
die Gesalfde van Adonai!
Gelukkig het
Hy kort-kort stilgestaan, iemand aangeraak, ‘n lewe omskep, sy kon mettertyd
nader beweeg. Skuifeltreë, skugtertreë,
toegevou in haar mantel. As sy net met
Hom kon praat, kon vra waarom....
Oneindig
bewus van haar onreinheid het sy probeer om ongesiens deur die menseskare te
beweeg. Nader en nader, sy kon later hoor hoe Hy lag!
Sy het voort
geskuifel, angs en swakheid wou haar oorrompel, maar ’n groter drang het van
haar besit geneem! As sy net aan Hom kon raak...
Maar sy weet
sy durf nie, Hy die Godsgestuurde sou sy nie durf onrein maak nie! Om haar is
daar ‘n gemaal van mense, bedelaars roep,
Sy dissipels vorm ’n kordon om Hom, en dan sien sy Hom...
’n Paar tree
voor haar loop Hy en Jairus, sy sien dat Jairus ontsteld is, aanmekaar probeer
om die Profeet aan te jaag. Deur haar waas hoor sy brokkies en stukkies van
hulle gesprek, besef dat iemand..... Jairus se dogtertjie, sterwend is. Haar
hart krimp, sy weet dit is sy enigste kind.
Sy snak, sal sy ooit.......
Maar dan
glimlag sy, Hy is oppad na Jairus se huis, als sal regkom! Sy weet dat Jairus
lankal glo in die Profeet, sy het hom
menigmaal in die koel aandlug op die dak van hul huis met haar man hoor
redeneer. Gehoor hoe hy opgewonde vertel van die wonderwerke, dan het sy
stilletjies aan die voet van die trap gaan sit en luister, honger vir nuus,
want sy durf nie Sy naam in haar huis noem nie, durf nie praat oor die
Verraaier nie....
Maar hier is
Hy nou ’n paar tree voor haar, groot mans versper haar sig maar sy weet Hy is
daar, sy hoor Hom, voel die ekstase in haar opstoot. As Hy net wil omdraai, as
Hy haar sien sal Hy weet sy glo en dat sy Hom so nodig het.....
Sy struikel
oor iets, voel hoe sy deur die skare vorentoe gestamp word, kom hard op haar knieë
te lande. Op daardie oomblik buig die Profeet af om met ’n ou bedelaar te
praat. Sy sien Sy tallith, sien hoe die tzitzit voor haar liggies heen en weer
wieg op die maat van Sy bewegings...
“As ek net
aan Sy Tallith kan raak, as ek net aan die tzitzit kan raak sal ek gesond word,
sal ek nie meer onrein wees nie!”
Haar hand
beweeg onwillekeurig vorentoe, huiwer, en dan, met die suiwer wete dat Hy die Messias
is, dat Hy die Een is wat haar kan heilig, gryp sy met haar laaste krag na die
tzitzit, simbool van die Torah en deur haar dreun die gebed: Adonai, maak my
rein, heilig my..........
Geskok slaan
sy haar hande om haar buik, die pyn is weg! Besef onmiddelik dat die bloed
ophou vloei het... Sy voel hoe krag deur haar stroom. Vervaard spring sy op, probeer uit die pad van die malende voete kom...
’n Stilte
daal skielik op die skare as die Profeet Sy kop oplig en vra: “Wie het aan My klere
geraak?” ’n Paar voortvarendes skree:”Ek!”,
terwyl die oorgrote meerderheid terugdeins, nie seker van die gesindheid
agter die vraag nie. Al die dissipels praat gelyktydig, probeer die Meester
oortuig dat die skare van alle kante teen Hom aangedruk het. Sy oë gly oor die
skare, kom te ruste op haar verskrikte gesig.
Sy weet Hy
weet...
Snikkend val
sy voor Sy voete neer, vrees en blydskap ’n mengelmoes van emosies wat deur
haar hart galop. Stotterend, babbelend verduidelik sy... Sy weet dat sy nie sin
maak nie, onsamehangend vertel sy vir Hom van haar jare se pyn , vernedering,
moedeloosheid, eensaamheid! Sy voel hoe Hy haar optrek, die growwe mantel wat
haar moes vermom van haar aftrek.....
“Dis die
priester se onrein vrou!” hoor sy iemand uitroep, beleef hoe almal wegdeins van
haar af en dan word dit oneindig stil in haar as sy opkyk in Sy oë. Al die jare
se vernedering val in daardie oomblik van haar af weg as sy die liefde in Sy oë
beleef, toegevou word in die wete dat sy rein is in Sy heilige oë....
Sy hoor Sy
helende woorde oor haar spoel: Jou geloof het jou gered, gaan in vrede, jy is
genees!”
Sy staar Hom
agterna, voel hoe die skare teen haar stamp as hulle by haar verbybeweeg. Hier
en daar raak ’n vrouehand saggies, skugter aan haar....
Sy draf
dansend huis toe, die mantel wat haar moes wegsteek snoesig om ’n dankbare
bedelaar gevou. Haar hart jubel, haar lippe sing ’n loflied: Hoshannah in die
hoogste hemel, Hoshannah Hy leef!
Sy plaas die
borsel neer, kyk vir die soveelste maal verwonderd na haar bloesende afbeelding in die spieël, stryk oor haar
sterk, regop figuur, voel die borduurwerk van haar mooiste rok onder haar
vingerpunte.....
Hy storm
vervaard by die deur in. “Ek was by Jairus se huis, die Profeet het sy
dogtertjie gesond gem...” Die woord hang stom in die lug, sy oë verstar,
verwonder...
“Hy het my
ook gesond gemaak, Baruch HaShem!”
Verwonderd
kyk sy hoe hy naderkom, voel sy hoe hy haar gesig met sy groot hande omraam,
hoor sy hoe hy snikkend dit op haar lippe uitjubel:
“Baruch
Haba B’Shem Adonai, my vrou!”
Notas:
Tallith – gebedsdoek van die Joodse mans
Tzitzit – tossels aan die hoeke van die
Tallith. Kyk Num 15:39
Baruch
HaShem – Geseënd is die Naam
Baruch Haba B’Shem Adonai – Geseënd is Hy wat
kom in die Naam van die Here.
No comments:
Post a Comment