Monday, September 26, 2011

Is jy 'n rivier of 'n kanaal?

Is jy ‘n rivier of ‘n kanaal?











Proverbs 21: 1:- The king’s heart is like channels of water in the hand of the Lord;


He turns it wherever He wishes.


Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here;


soos ‘n stroom water lei Hy dit soos Hy dit verkies.




‘n Rivier en ‘n kanaal is albei “vervoermiddels” van water. Net so moet my lewe ‘n vervoermiddel wees van die Lewende Water. Vader het my daarop gewys dat ‘n rivier bekering voorstel en ‘n kanaal wedergeboorte.



Bekering beteken omdraai , wegdraai, op ‘n ander pad gaan. Ek bekeer my van my sonde, deur my rug daarop te draai en ‘n besluit te neem om dit nie weer te doen nie. Dit is gewoonlik ‘n verstands- of wilsbesluit.




Wedergeboorte daarteenoor beteken om opnuut gebore te word in ‘n ander familie in, die familie van God. Dit beteken dat jou natuur verander, jy word nou ‘n nuwe mens. (2 Kor 5: 17)


Hierdie is ‘n gees- of hartsbesluit.




Jy kan nooit wedergeboorte sonder bekering beleef nie maar jy kan wel bekering sonder wedergeboorte beleef.



Kom ons kyk na die kenmerke van ‘n rivierloop teenoor die van ‘n kanaal.




‘n Rivier het van nature klippe, plantreste, klein systrome, skeure in die walle en selfs maalkolke. Die rivierbedding is ook porieus, die water word opgesuig in die grond en vorm ‘n modder- en slyk neerlaag onder op die bodem. As daar volop water is vloei die stroom gemaklik maar sodra die watervlak laag is word die vloei baie traag of selfs gestuit.




‘n Kanaal daarteenoor is of ‘n gemaakte sloot of ‘n rivierloop wat omskep is in ‘n kanaal.


In die proses is die klippe uitgehaal, gate opgevul, takke en vuilis verwyder en die wande met sement gepleister. Selfs die walle word skoongemaak van plantmateriaal sodat die kanaal skoon kan bly. Alhoewel ‘n kanaal ook soms vuil kan word, veral as die water daarin min is, spoel klippe en takke makliker weg want daar is nie holtes en plantwortels waarin dit vassteek nie. Die water vloei meesal ongehinderd deur ‘n kanaal.




Albei die rivier en die kanaal se taak is om water te verskaf aan die omgewing, maar die kanaal het ‘n meer spesifiek doel. Dit is gerig op ‘n “Target”, en dit beweeg dus doelgerig in daardie rigting omdat die bouers dit so beplan het. ‘n Kanaal het ook ‘n bron vanwaar dit gevoed word.




‘n Rivier vloei min of meer soos die omstandighede dit toelaat, om die rotse, deur die valleie, dit vind die pad van minste weerstand. Erosie speel ook ‘n groot rol in die loop van ‘n rivier. Na ‘n stormvloed lyk ‘n rivier se topografie dikwels nie dieselfde nie. Die walle kalwe in, die oewer is onstabiel, daar is stroomversnellings en versperrings agv takke en vuilis. Al hierdie is faktore wat die watertoevoer benadeel, en alhoewel ‘n kanaal ook ‘n stortvloed kan beleef, bly die vorm, die afwerking van die kanaal dieselfde en soos genoem vloei dit wat versperrings kon veroorsaak maklik weg saam met die water.




Wat het dit alles met my as gelowige te doen?




JOH 3: 3 SÊ DAT EK WEERGEBORE MOET WEES ANDERS SAL EK DIE KONINKRYK VAN GOD NIE SIEN NIE EN OOK NIE INGAAN NIE.



Dit is nie genoeg om my net te bekeer van my verkeerde weë nie, ek moet weergebore word, ek moet nuut word, ek moet ‘n skoon en rein kanaal wees waardeur die Lewende Water, Yeshua Ha Mashiach – Jesus Christus, kan beweeg om die wêreld se dors te les.




As daar nie wedergeboorte was nie, as my lewe nie verander het nie, as ek doodeenvoudig aangaan met my lewe soos vantevore (na my bekering) en dit net toegooi met ‘n christelike sousie, is ek soos ‘n rivier, onstabiel, altyd op soek na die pad van minste weerstand in my geestelike lewe nog vol vleeslike sondes (takke en vullis), bind die vyand my nog in sy maalkolke van slawerny, word ek beheer deur my emosies en pyn (klippe) en is my gees troebel (modder en slyk).




Laat Vader toe om van jou ‘n kanaal te maak, met ‘n sterk fondasie (die Woord) en afgewerkte mure (spreek van heiligheid en toegewydheid).




Laat Hom toe om die klippe, vullis, en modder uit jou lewe te verwyder en die maalkolke toe te gooi met die sement van Sy liefde! Kry jou toevoer van die Bron van Lewende Water – Jesus self! Laat Hom, die Meesterbouer dan toe om jou vloei te rig op Sy “target” – ‘n wêreld daar buite wat vergaan van dors, jou gesin wat smag na Sy liefde, jou vriende wat vasgevang sit in ‘n dooie tradisie van rivierwees.


Daar is ‘n lied met die woorde:


Let it rain!
Let it rain!
Open the floodgates of heaven!
Let it flow!


Raak stil voor Sy troon en sing hierdie lied of bid hierdie woorde. Vra Hom om Sy Lewegewende Krag deur jou te laat vloei en van jou ‘n kanaal te maak wat sterk vloei, ‘n kanaal wat deur Hom gerig word.


Let it flow!

Ina van Vuuren




No comments: